Ons kyk terug op die pad

Die Afrikaner van 2014 moet weer sy eie identiteit vind en waardeer, voordat hy weer as

volk in staat sal wees om ‘n redelike toekomsideaal te stel en na te streef.

Die hernieude soeke na ons volks-identiteit is tans baie aktueel en uit verskeie kringe neem individue en organisasies leiding met publikasies, gesprekke en werkgroepe.

Ongelukkig geskied baie hiervan in die teken van ons volk se huidige verdeeldheid, en

daarom is dit belangrik om sowel objektiewe kriteria te soek, maar om daardie kriteria aan die hand van ons volk se onveranderbare grondslag en ons kernwaardes te definieer.

Wanneer ons dan oor ons volks-identiteit wil besin, klink Dr D.F. Malan se

slotwoorde op 16 Desember 1949 oor die dekades heen in ons ore:

Hierdie monument staan hier vir die Voortrekkers se nagedagtenis en huldiging. Maar dit staan hier langs die pad van Suid-Afrika ook vir u en vir u nageslag. Dis u Quo Vadisheiligdom, Afrikaner, nou en deur al die toekomende geslagte heen! As u weggedwaal het van die Voortrekker gees en -gedagte, as u die Voortrekkers wat u vandag huldig, met die daad verloën en opnuut kruisig en u oog val op hierdie monument waar u en die Voortrekkers vandag in die gees mekaar van aangesig tot aangesig ontmoet; as daardie siel-deursoekende vraag hom dan aan u opdring:

Afrikaner, Quo Vadis, waar gaan jy heen?

Staan dan stil, en draai terug: Terug na u volk; terug na u volk se hoogste ideale; terug na die pand wat ook aan u toevertrou is om te bewaar; terug na die volksaltaar waarop u, u offers moet lê, en as dit geëis word ook uself as ‘n offerande; terug na die heiligheid en die onskendbaarheid van die gesinslewe; terug na u Christelike wandel; terug na u Christelike geloof; terug na u Kerk; terug na u God!

As volksgenote kan ons sekerlik saamstem oor die kern-kenmerke van Afrikaner-wees – ons is tans juis oor baie hiervan verdeeld. Hier volg die elemente wat algemeen, en wetenskaplik, aanvaar word as die kenmerke waarvolgens ´n volk omskryf kan word.

[met erkenning aan AKB, Theuns de Wet & Chris Jordaan]

Ons het ´n herkoms en erfenis, ´n volks-identiteit, wat tot onlangs betreklik stewig op hierdie fondamente gerus het:

1. Godsdiens – ons is as ´n Christelik-Protestantse volk hier geplant en was as sulks bekend;

2. Algemeen aanvaarde norme en waardes – ons het die Christelik-gereformeerde lewens- en wêreldbeskouing gehandhaaf op elke lewensterrein;

3. Algemene aanvaarde ideale en strewes – ons het gestreef en gewerk om onder meer ’n onderskeidbare, vrye volk te wees in ´n eie land;

4. Gemeenskaplike kultuurgeskiedenis en vereenselwiging met die volksgeskiedenis, in al sy ryke verskeidenheid en opbouende nut vir almal, ook voormalige vyande;

5. Gemeenskaplike taal – ons was die draer van die Afrikaanse taal én voortspruitende kuns, kultuur en akademiese prestasies;

6. Herkoms volgens afkoms en keuse Euro-etnies (´n skeppings-werklikheid) uit die Europese Volkskultuur, maar Afro-sentries gerig met ´n gemeenskaplike bodemgebondenheid aan Suidelike-Afrika.

Ons is vandag toenemend verdeeld rondom ons ideale, kultuur & geskiedenis, taal en afkoms. Ofskoon hierdie onmisbaar deel vorm van ons volk-wees, is al hierdie sake ondergeskik aan die suiwer Christelike geloof en is die tragiese werklikheid in 2014 dat ons steeds die spreekwoordelike balk in die volks-oog, van toenemende verval in ons geloofslewe en –waardes, óf miskyk, óf nie daaroor wil praat nie.

En tog, as gelowige volk, was ons Voortrekker-Boere-Afrikaner voorouers verbete onderhouers van die ware en suiwer Christelike geloof in die ware Drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, wat Homself só aan ons openbaar in sy Woord (die Bybel): hierdie ware, suiwer geloof was gelowig aanvaar én bely én uitgeleef, sonder ´n verskeidenheid van teologië of dwalinge, of selfs debat oor waarom die geloof kwansuis bloot ´n persoonlike saak sou wees.

Die kern van ons volks-identiteit was gesond; daarom kon ons tot laat in die 20ste eeu baie aanslae die hoof bied, al moes dit baie maal met smart en bitter opoffering gepaard gaan.

Vandag is daar baie stemme wat opgaan ter wille van samewerking, oor alle verskille heen, soos by ander krisis-oomblikke in ons volksbestaan: vele van daardie stemme beroep hulle op ’n gemeenskaplike volks-erfenis en op ons volks-geloftes; baie beroep hulle o.a. op die bekende uittreksel uit Staatspresident Kruger se bekende boodskap:

“Veel van wat opgebou was, is nou vernietig, verniel en het geval, maar met eenheid van sin en eenheid van kragte kan weer opgerig word wat nou daar plat lê.”

Maar die ironie is dat so baie van diegene wat hulle vandag beroep op die geloofshelde van Bloedrivier, op stryd-oomblikke daarvoor en sedertdien, wat graag volksleiers en –helde napraat, die goue draad van die ware, suiwer Christelike geloof in die lewe van daardie volksleiers en –helde miskyk, dit afmaak as “outyds” of dit verloën met misleidende ras-gegronde teologië of charismatiese- of humanistiese dwalinge, wat die Protestantse- en Calvinistiese erfenis van ons Christelike geloof wil verdraai, verwater en uiteindelik vernietig.

Hierby moet ons noodwendig voeg diegene wat skuldig staan aan godsdientige lippediens, maar in wese jaag na die geld en genot van die moderne lewe, wie se klagtes eintlik gerig is op die vrees vir verlies aan aardse goed, eerder as die versaking van ons geloof en die ondergang van ons volk.

Afrikaner, Quo Vadis, waar gaan jy heen?

Staan dan stil, en draai terug: Terug na u volk; terug na u volk se hoogste ideale; terug na die pand wat ook aan u toevertrou is om te bewaar; terug na die volksaltaar waarop u, u offers moet lê, en as dit geëis word ook uself as ‘n offerande; terug na die heiligheid en die onskendbaarheid van die gesinslewe; terug na u Christelike wandel; terug na u Christelike geloof; terug na u Kerk; terug na u God!