Ons Koerant

Ons Koerant

Ons koerant, Die Vryburger, is nie net ’n vriend op die rekenaarskerm nie, hy is deesdae ook ’n vriend van menige selfooneienaar, en ook sommer van hierdie nuwer goed waarvan die jongmense alles weet…

Die redaksie het op navrae van dié kant af, ’n bietjie inligting bekend gemaak sonder om die belangrike nuus wat glo later vanjaar vrygestel gaan word, aan te raak.

Dat daar groot planne is, maak elke welmenende leser nuuskierig, maar hoe ook al probeer is om arm te draai, die inligting bly weg en die monde met ritssluiters geseël.

Miskien is dit tog goed om ’n paar belangrike opmerkings te maak oor die afgelope, byna twee jaar van vreugdevolle leesgenot, afgesien van die berigte wat mens soms woedend en soms hartseer laat.

Daardie eerste week het die redaksie so-so hulle eerste publikasie op die skerm geplaas, en die twintig berigte wat daardie eerste week verskyn het, is deur sowat 3,000 lesers verslind, word vertel.

Elke week het die beriggewing meer geword, meer in die aantal wat geplaas is, meer in verskeidenheid, en selfs lywiger in woordtelling.

Die groei het in die eerste maand sodanig toegeneem dat nuwe planne gemaak moes word om die onverwagte vermeerdering se moontlike verwagtinge aan te spreek, en so het die eerste medewerkers hulle bydraes gemaak. Dit wissel van Boeremag verslae, na gereelde motor rubriek, tuinery en selfs wat in die kombuis gedoen kan word.

Oor die kwinkslae van die Sweep, die opmerkings van Kordaat Neelsie en die pragtige boodskappe uit die Woord, het die redaksie vreugde gevind, want dit is alles deel van hul spanpoging om ons tot diens te wees sonder ’n enorme betaling. Dit maak Die Vryburger baie spesiaal in elke huishouding waar sy lesers op hoogte gehou word van lands- en wêreldgebeure.

Die koerant het ook besondere eienskappe wat hom totaal anders maak as enige ander koerant in Suid-Afrika. Daar is ’n besondere ruimte geskep waar kundiges hulle mening gee, en daar word gratis advertensies geplaas vir mense wat werk soek of werk aanbied.

As lesers dan begin om die redaksie aan te moedig om ’n minimale fooi te hef, dan word daarvan met groot waardering kennis geneem, want dit openbaar ’n wonderlike gesindheid.

Dit is hoegenaamd nog nie die tyd om so iets te doen nie, en is van die hand gewys omdat daar nog ’n ent pad gestap moet word.

Die versugting by volksgenote was immers om weer ’n mondstuk te kry wat nuus en inligting bekend sal maak wat belangrik is vir volksgenote – of dan nuus wat saakmaak aan lesers te bied.

As enigste e-koerant ter wêreld wat ook die gebeurtenisse op die volksakker promoveer en bekend maak, moet daar nog vorentoe meganismes opgestel word wat die volk tot veel groter diens is, aldus die redaksie.

Die skerp waarnemings van lesers wat kommentaar lewer op berigte, dui op ’n bepaalde gehalte, en die enkele wanklank wat soms deurkom, is nie noemenswaardig nie, want daar is duisende, nee, derduisende lesers wat verkies om ’n wag voor die sleutelbord hou….

Ons dank aan die redaksie en die eienaars van Die Vryburger – u laat ons voel die vryheid kom nader….