Onderwyseres sterf in die vreemde

Ada Malherbe (31), ’n onderwyseres van Colesberg, wat haar beroep in Thailand beoefen het, is glo in haar bed dood aangetref by ’n vakansieoord in Bangkok.

’n Vriend het haar lewelose liggaam opgespoor in ’n lykhuis van die stad toe sy nie by die skool opdaag nie.

Haar lyk is op 15 April ontdek deur personeel van die oord, maar haar familie het, danksy die vriend, eers ’n week later van haar dood verneem.

Die oord kon kontak met die familie in Suid-Afrika gemaak het aangesien haar paspoort en selfoon in haar kamer was.

Die familie is erg bekommerd oor die voorval, te midde van die berig wat daarna ontvang is dat sy skynbaar aan ’n hartaanval oorlede is.

Haar ma het gesê die dogter se begrafnis sal eers oor ’n week plaasvind weens die baie papierwerk wat afgehandel moet word.

Die Puk-koor, onder leiding van prof. Awie van Wyk, sal tydens die diens sing aangesien sy in haar studentejare ’n lid van dié koor was.

Sy word oorleef deur haar ouers en twee broers.