Onderwys – Waarheen gaan ek met my kind? (deel 1)

Voordrag is gehou tydens die Hervormingsfees van die AP Kerk Witbank in Oktober 2013.

 

Ek wil die aanbieding vanaand vanuit ’n totaal onkonvensionele hoek benader. Ek wil eers ’n stelling waag en dit verduidelik en dán ons aandag vestig op die beginsels vir Christelike Onderwys.

Dr. Tim Keller is ’n gereformeerde teoloog van Amerika. Hy bedien ’n groot gemeente in New York en doen geweldig baie om die Evangelie regoor die wêreld uit te dra. Hy het in ’n preek ’n stelling gemaak wat kortliks op die volgende neerkom: Dit is vir ons wat in christelike huise grootgeword het baie moeiliker om die Here met oorgawe te dien as iemand wat later in sy lewe tot bekering gekom het.

Die waarheid van sy stelling lê daarin dat nuwe bekeerlinge oor die algemeen borrel van dankbaarheid en oorgawe aan die Here terwyl die meeste mense wat in christelike huise grootgeword het maar traag is om in oorgawe te lewe. Nuwe bekeerling het gewoonlik ’n honger na die Woord van God terwyl ons wat in christelike huise grootgeword het so gewoond geraak het aan die leer van die Skrif dat dit ons nie meer aangryp nie – kyk maar net hoe lyk ons Bybelstudiegeleenthede. Ons het so gewoond geraak aan die verlossing in Christus dat die onbeskryflike genade wat aan jou bewys is nie meer jou lewe beheers nie. Ons het so gewoond geraak aan die leer oor die vergifnis van sonde dat ons nie meer werklik omgee hoe ons lewe nie, want ek kan tog maar weer my sonde bely. Ons het so gewoond geraak aan die Bybel dat die inhoud daarvan ons nie meer aanspreek nie.

Bybellees en kerkbywoning, ja die hele christelike storie, het so deel van ons lewens geword soos Springbokrugby en skottelgoedwas en partytjiehou; so deel van my alledaagse bestaan soos my werk en my gesin en my stokperdjies; so deel van my lewe dat dit nie meer die bepalende faktor en dryf van my hele bestaan is nie. Ja waarlik, ons het so gewoond geraak aan God en sy Woord dat ons glad nie anders lyk as die res van die wêreld nie.

Besef u die waarheid hiervan?

As die wêreld na die christendom kyk, lyk ons glad nie anders nie, ons staan nie uit nie. Ses dae van die week leef ons en lyk ons soos elke ander onbekeerde, maar een dag per week, en dan net vir ’n uur, hou ons ons heilig en maak ons of ons anders is. Ons lyk eenvoudig net nie anders nie. Ons leef soos die wêreld, ons vier Kersfees soos die wêreld, ons voed ons kinders op soos die wêreld.

Waarom?

Omdat die verlossing in Jesus Christus ons nie meer aangryp nie.

Elkeen wat ernstig is oor sy verhouding met die Here, elkeen wat ernstig is oor sy gehoorsaamheid aan die Woord, elkeen wat nie maar bloot wil voortlewe asof God net nog ’n deeltjie uitmaak van sy/haar besige bestaan nie, sal moet stil word en voor die Here kom buig om te hoor wat Hy in sy Woord oor die onderwys van my kind sê.

Die hoe en die waar van die onderwys van jou kind is een van die mees kritiese en mees ingrypende besluite wat jy in jou lewe moet neem. Baie ouers dink nie eers oor hierdie saak na nie. Baie ouers leef hulle lewe sonder om een keer te stop en te vra wat die Here se wil ten opsigte van die onderwys van hulle kinders is. Een  rede hiervoor is ons geloofsingesteldheid waaroor ons pas gehandel het.

’n Ander rede is die feit dat ons so gewoond is daaraan dat onderwys die staat se verantwoordelikheid is, dat ons nie eers verder daaroor dink nie. Dit is belangrik om te hoor dat staatsonderwys soos wat ons dit vandag ken, ’n nuwe verskynsel in die wêreld is. Deur die eeue was dit ouers wat in gemeenskappe self vir die onderwys van hulle kinders verantwoordelikheid geneem het. Eers met die opkoms van die kommunisme in die 18e eeu het die kommuniste beplan om onderwys in die hande van die staat te kry. Deur middel van die skole kon die kinders se denke gevorm word om die ideologie van die staat na te volg – ongeag wat hulle by die ouerhuis geleer word. Met dit in gedagte het Marx gesê: The education of all children, from the moment that they can get along without a mother’s care, shall be in state institutions at state expense.

Lenin het verder gegaan: Give me just one generation of youth, and I’ll transform the whole world.

Dit is presies die situasie waarin ons vandag in Suid-Afrika sit – ’n staatskoolbedeling waarin die ideologie van die staat die kern van die onderwys vorm.

In hierdie voordrag sal dit dus oor twee sake handel, nl.: My verantwoordelikheid ten opsigte van die onderwys van my kind én Staatskoolonderwys – die gevare vir die onmondige kind.