Onderwys steeds deurmekaar

Die Departement van Onderwys in Noord-Transvaal is skynbaar nou nog aan die sukkel om handboeke by die skole af te lewer, en sal glo eers op 6 Junie die laaste aflewerings gedoen kry.

Alhoewel die onderneming gegee is dat dit gedoen gaan word, is daar instansies wat die onderneming vasgemaak wil kry met ’n hofbevel.

Dit blyk egter dat ingeligte waarnemers se vermoede dalk reg kan wees wat daarop sinspeel dat die bevel van ’n hof dikwels deur Departemente verontagsaam word, wat so ’n operasie nie sinvol maak nie.

’n Organisasie bekend as Basic Education for All, wie se hofaansoek nou aangehoor word in die hooggeregshof in Pretoria, is bedoel om die onderneming van die Departement te bekragtig dat die handboeke wel afgelewer sal word.

Die Departement het blykbaar onderneem om handboeke vir die nuwe kurrikulum vir leerlinge in grade 7, 8, 9 en 12 voor 8 Mei af te lewer en die res teen 6 Junie.

Onderwys kenners meen die tekort aan handboeke wat eers in Junie beskikbaar gestel gaan word, is juis een van die hoofredes waarom duisende leerlinge nie kan vorder nie.

As die onbekwaamheid van menige leerkragte ook nog in aanmerking geneem word, dan laat dit die onderwys in algehele chaos, word gesê.