Nuwe hulp vir siggestremdes by hoofstroomskole

‘n Toestel wat nou deur ‘n leerder gebruik word, sal toegang tot hoofstroomskole vir siggestremdes ‘n werklikheid maak omdat dit die leerder help om die kommunikasiegaping te oorbrug.

Danksy die eBrailleNote Apex-rekenaar kon Pieter-Jans Durr, ’n siggestremde leerder, vanjaar die oorgang van ’n skool vir blindes na ’n Swartlandse hoofstroomskool maak.

Tot verlede jaar was Pieter-Jans ’n leerder aan die Pionierskool vir siggestremdes in Worcester, maar het na sy gesin in Malmesbury verlang en het saam met hulle besluit om te kyk of hy by die Hoërskool Swartland ingeskryf kon word.

Die hoof van die Hoërskool Swartland, Dirk Marais,  het gesê hulle het in samewerking met die Pionierskool en die ouers aan die werk gespring om vanjaar vir Pieter-Jans plek te maak in gr. 9.

Die handboeke was die grootste probleem, maar toe het hulle die Apex-rekenaar van die Wes-Kaapse onderwysdepartement gekry, het Marais gesê. Die laaste struikelblok was om die onderwysers voor te berei.

Die Wes-Kaapse minister van onderwys, Donald Grant, was verlede week by die skool om te kyk hoe werk die masjien wat hulle verskaf het en hoe dit vir Pieter-Jans en die skool bystand bied. Hulle hoop om baie uit Pieter-Jans se ervaring in ’n hoofstroomskool te kan leer en hoe tegnologie soos dié die beeld van onderwys en onderrig kan transformeer, het Grant gesê.

Mari Durr, Pieter-Jans se ma, het gesê haar seun is ’n skerp leerder en werk nou lekker op sy eie. Marais het verduidelik hoe die toestel hulle help om opdragte aan Pieter-Jans in braille deur die rekenaar te gee en hoe sy take dan in elektroniese teks teruggevoer word.