Nkandla-verslag in die asdrom

Die verdoemende Nkandla-verslag, soos opgestel deur die Openbare Beskermer (OB)

Onder leiding van adv. Thuli Madonsela, is letterlik in die asdrom gegooi.

Die ANC/SAKP alliansie het gesorg dat ‘n mosie ingedien word om die ad hoc-komitee wat handel oor die Nkandla-verslag, se werksaamhede te verwys na die volgende parlement na die verkiesing.

Dit beteken in kort dat die mees waarskynlike sal wees dat die volgende parlement nie enige iets gaan doen om die Nkandla verslag behoorlik te hanteer nie, en daarmee die hele skandaal onder die mat invee, sê ’n politieke analis van Pretoria.

Die verskoning is gebruik dat daar nie voldoende tyd is om die verslag behoorlik af te handel soos wat vereis mag word nie.

Deur dit te verwys na die volgende parlement, beteken ook dat die moontlikheid bestaan dat die speaker nie bespreking daarvan wil toelaat nie, word gesê.

Corné Mulder, VF-Plus se LP, sê die ANC misluk in sy verantwoordelikheid teenoor die parlement en die grondwet want Zuma het meer as 9 maande verkwis om nie antwoorde te gee op dringende vrae nie, en nou word alles vertraag tot op die nippertjie, sodat dit nie behoorlik hanteer kan word nie.

Gesaghebbende ontleders wys daarop dat die verslag na afloop van die verkiesing wel hanteer kan word, maar dat dit hoegenaamd nie dieselfde impak het as wanneer dit voor die verkiesing afgehandel word nie.

“Die Nkandla-verslag is klaar in die asdrom,” word gesê.