Navo waarsku Rusland

Enige vêrdere ingryping deur Rusland in die Oekraïne, gaan ernstige gevolge hè en sal uiteindelik as ’n geskiedkundige fout beskou kan word.

Dit is die waarskuwing wat Navo en die VSA se Withuis tydens ’n seminaar in Parys geuiter het by monde van Anders Fogh Rasmussen, die sekretaris-generaal van Navo.

Hy het daarop aangedring dat Rusland terugtree nadat beweerde pro-Russiese militante die staatsgeboue in verskeie stede na die ooste van die land oorgeneem het.

Die oorname van staatsgeboue het daartoe gelei dat parlementslede in die Oekraïne handgemeen geraak het tydens ’n parlementêre sitting.

Rasmussen het Rusland versoek om terug te tree en nie die situasie in die Oekraïne te vererger nie. Hy het gewaarsku dat Rusland se vêrdere ingryping, ’n geskiedkundige fout sal wees wat ernstige gevolge vir die verhouding met Moskou sal beteken wat hulle verder gaan isoleer.

Staatsgeboue in Charkif, Loegansk en Donetsk is deur Russies gesindes ingeneem en het ’n eed afgelê om die drie stede uiteindelik by Rusland in te lyf.

Die BBC het intussen berig dat die militante in Donetsk ’n referendum oor afstigting eis.

Die Withuis het Rusland gewaarsku teen vêrdere inmenging en beweer dat hulle oor bewyse beskik wat aandui dat Rusland die militante betaal om oornames van staatsgeboue te bevorder.

Indien Rusland in die geheim of selfs openlik betrokke raak in gebeure aan die ooste van die Oekraïne, sal dit ernstige gevolge veroorsaak, het ’n woordvoerder van die Withuis, Jay Carney gesê.

Foto – Anders Fogh Rasmusse