Motoris stamp leeu in Wildtuin

Die Krugerwildtuin se bestuur is op die uitkyk vir ’n motoris wat ’n leeu met haar voertuig gestamp het en wat daarna deur die leeu aangeval is.

Blykbaar wou die gevoellose motoris die dier uit die pad stamp om verby te gaan, wat die leeu tot die aanval laat oorgaan het.

’n Woordvoerder van die Wildtuin sê hulle het klagtes ontvang van ander besoekers wat die voorval gesien het, en hewig ontsteld was oor die betrokke motoris se ongevoelige optrede.

Daar was glo ’n hele trop leeus wat in die pad gelê het, en die vrou het hulle na bewering probeer dwing met die voertuig om pad te gee.

Een leeu het nie van die optrede gehou nie, en die bakkie begin krap. Die vrou het toe vinnig versnel om seker te maak haar voertuig se registrasienommer word nie gelees nie.

Dieselfde dag is ’n tweede geval gerapporteer van ’n ander leeu wat ’n motoris se voertuig aangeval, en die een band stukkend gebyt.

’n Toerleier het op die voertuig afgekom waar die eienaar besig was om die band te vervang. Op sy vraag wat gebeur het, is hy meegedeel dat ’n leeuwyfie die band stukkend gebyt het.