Motor rubriek – BMW X5

Die heel nuutste model BMW X5 is so pas bekend gestel. Dit is die derde veranderde model wat verskyn. Op die oog af lyk dit nie of daar veel verandering plaasgevind het nie maar wanneer dit van naderby bekyk word, besef jy dat daar veel meer verander is as wat ’n mens dink.

Daar het aansienlike stilering veranderings aan die bakwerk plaasgevind wat dit meer vloeiende lyne gee en wat tot gevolg het dat wind weerstand verminder is. Die niertjievormige sierrooster is verbreed en die hoofligte vorm deel van die vloeiende lyne van die voorkant. Die kolligte is hoër opgeskuif en die lug-inlate is aansienlik vergroot. Aan die agterkant is groter en langer ligte geïnstalleer wat die voertuig duideliker sigbaar maak vir ander padverbruikers.

Binne-afwerking is die bekende BMW afwerking en wanneer daar op die elektries verstelbare, leer bedekte bestuurder sitplek gaan sit word, voel jy onmiddellik tuis en omvou die sitplek jou tot so ’n mate dat jy deel word van die voertuig. Die grootte van die voertuig is van so ’n aard dat dit met gemak vyf volwassenes kan huisves. Daar is voorsiening gemaak vir ’n derde ry sitplekke wat u ’n bykomende R30,400 uit die sak gaan jaag maar dit is die moeite werd.

’n Lang lys van ekstras maak deel uit van die binne-afwerking. Lugsakke vir veiligheid, lugversorger vir gerief, radio vir vermaak en nog talle ander items. Een daarvan is die elektriesbeheerde sondak wat, wanneer dit oop is, ’n buitengewone uitsig bied en jou deel maak van die natuur daar buite.

Dit is egter op die pad waar die voertuig se ware kleure na vore tree. Die 2933 kub. cm. turbo aangedrewe, ses silinder diesel enjin se wringkrag is ’n welkome 560Nm. Dit is 20 Nm. meer as die vorige model en dit is beskikbaar vanaf 1500 o.p.m. en die rooilyn op die toereteller begin by 4000/5400 o.p.m.

’n Agtspoed outomatiese ratkas word gebruik  en die ratkies hefboom(wat gemaklik in jou handpalm pas) kan gebruik word om vier posisies te kies, naamlik: Ekonomies, gerief, sport en sport+.

’n Aktiewe lugsuspensie pakket sorg dat rygerief van hoogstaande gehalte is en verseker dat op ons land se paaie, wat in ’n swak toestand is, dit bykans seepglad oor die pad beweeg. 20 duim wiele wat met hoë glans swart verf geverf is sorg dat die voertuig op die pad bly. ABS remme verseker dat die voertuig met veiligheid tot stilstand kan kom.

BMW liefhebbers kan gerus u naaste BMW handelaar gaan besoek en u gaan vergewis van wat hierdie pragtige voertuig, u kan bied.