Moordenaars van Ermelo-boer vasgetrek

Mnr. JR Buhrman, ’n boer van De Emigratie, Ermelo, wat op sy plaas deur ’n aantal terroriste vermoor is, het hulle rieme styfgeloop toe polisie een doodgeskiet, en twee ander in hegtenis geneem het.

JR Buhrman se lewelose liggaam is Maandagoggend onder die bed, met ’n mat toegedraai, in sy plaashuis gevind. Dit wil glo voorkom of mnr. Buhrman met ’n stomp voorwerp doodgeslaan is.

’n Polisiewoordvoerder het bevestig dat twee terroriste ondervra word en ’n moordsaak is geopen.

Daar is nog onsekerheid wie die derde aanvaller doodgeskiet het.

Die woordvoerder het gesê dat die boer vier vuurwapens in sy naam geregistreer gehad het, maar slegs een kon in die huis gevind word, wat die vermoede laat ontstaan het dat die ander gesteel is deur die aanvallers.

JR Buhrman se familie het ’n baie lang verbintenis met TLU SA, en was tot sy dood ’n erelid. Sy vader wyle Louis Buhrman, was ’n prominente lid in TLU SA en die konferensiesaal by TLU SA is na hom vernoem.

Mnr. Janneman Robberts, TLU SA se voorsitter in die Oos-streek, het sy spyt uitgespreek namens die TLU SA Oos-Streek, en die barbaarse optrede van die aanvallers ten sterkste veroordeel.

“Die voorval is ’n duidelike voorbeeld van die wetteloosheid wat tans heers in die land, en die moeilike omstandighede waaronder die boer volhoubaar voedsel vir die land moet produseer,” het hy gesê.