Minder wapens, minder moorde?

Terwyl Suid-Afrika die een moord na die ander op ’n uurlikse basis moet beleef, word die land deur middel van die media, en met verklarings deur senior polisiebeamptes, wys gemaak dat daar minder moorde in die land plaasvind omdat daar minder wapens in die hand van mense is.

Polisiewoordvoerder Lt. Mike Tipanyega sê in ’n verklaring dat minder mense in die land oor vuurwapens beskik.

’n Navorser sê die gevolg daarvan is dat 4,000 mense se lewens gespaar is.

Tipanyega wys daarop dat veel minder mense wettig geregistreerde wapens besit as wat in 1994 die geval is, en beweer dat dit die rede is waarom minder moorde gepleeg word met vuurwapens.

’n Woordvoerder van georganiseerde landbou stem egter nie met die stelling saam nie, en sê die meeste moorde wat plaasvind met vuurwapens, is beslis gepleeg met onwettige wapens in die besit van die moordenaars.

Hy sê dit is opvallend hoe min moorde gepleeg word met wettig geregistreerde wapens, en dit is interessant dat die statistiek wat hiermee verband hou, nie vrygestel word nie.

Die statistieke is skynbaar ook nie beskikbaar oor hoeveel onwettige wapens in die hand van geweldenaars is nie. Tot hede is die gebruik om in die media te rapporteer van enkele blankes wat betrap is met ’n onwettige wapen, maar die honderde wapens wat by blankes gesteel word, tesame met die onbekende aantal wapens wat die land ingesmokkel word, word nie vermeld nie, het hy gesê.

’n Wapen deskundige meen dit is vreemd dat minder moorde met vuurwapens gepleeg word terwyl die jaarlikse sterftesyfer aan moorde, aansienlik styg, word gesê.

Tans is 1,7 miljoen wapens wettig in besit van individue, staatsdepartemente en verskeie soorte ondernemings in die land, het Tipanyega gesê.

Gedurende die afgelope boekjaar is sowat 83,000 aansoeke om lisensies ontvang, waarvan 3,000 nog nie afgehandel is nie.

Tipanyega sê die polisie weet nie hoeveel onwettige vuurwapens in Suid-Afrika in omloop is nie.