Mikro-vliegtuig stort neer, eis lewe

’n Mikro-vliegtuig het op die plaas Blaauwberg, buite Melkbosstrand neergestort en ’n yslike veldbrand veroorsaak toe die tuig aan die brand geslaan het.

Mnr. Seymour Currie, ’n boer van die gebied sê hy het op die wrak met ’n verkoolde lyk afgekom toe groot rookwolke sy aandag getrek het en hy gaan vasstel het wat die brand veroorsaak het.

Die onbekende man se liggaam is verkool en sy een been is waarskynlik met die slag teen die grond gebreek.

Die mikrovliegtuig is ook onherkenbaar weens die brand.

Polisiewoordvoerder Lt. kol. Andrè Traut, het die ongeluk bevestig en navrae na die Burgerlugvaartowerheid (BLO) verwys.

Die polisie het verslaggewers verbied om enige foto’s van die toneel te neem.

Kenners meen daar is nie streng genoeg regulasies wat strenger beheer kan uitoefen op die gebruik van mikro-vliegtuie nie, met die gevolg dat te veel mense die lewe laat in ongelukke soos hierdie, word gesê.