Man in sy huis doodgeskiet

Herman Faber(28), ’n IT-spesialis van Pretoria, is die afgelope naweek in sy huis doodgeskiet, en die vermoede bestaan dat dit sy voormalige vriendin kan wees wat die moord gepleeg het.

Faber is Saterdag dood in sy slaapkamer aangetref, met ’n wond in sy bors.

Kort nadat die voorval by die polisie aangemeld is, het hulle Lin Pretorius (36) in hegtenis geneem. Die twee was nie meer in ’n verhouding nie, maar het dieselfde huis gedeel in Montana, in die noorde van Pretoria.

’n Polisiewoordvoerder het glo gesê Lin Pretorius se gewese man Paul, het die polisie na die huis ontbied, maar dit is onbekend wat presies plaasgevind het.

Die twee was glo in ’n woordewisseling wat tot die moord gelei het.

Die polisie ondersoek die saak.

Kollegas van Herman Faber sê hy was ’n eerlike, baie hulpvaardige en betroubare werknemer.