Maand se handelsbalans weer positief

Suid-Afrika se handelsbalans vir Februarie was ‘n aangename verrassing. Dit het ‘n surplus van R1.7-miljard getoon teenoor Januarie se tekort van R16.9-miljard. Die handelsyfer met die BLNS-buurstate (Botswana, Lesotho, Namibië en Swasiland) het die oorskot moontlik gemaak en saam tot ‘n surplus van R8.26-miljard bygedra wat die tekort van R6.54-miljard in ‘n surplus van R1.7-miljard omskep het.

Uitvoere vir die maand het met 7.9% teenoor Januarie toegeneem tot R83.9-miljard en invoere was  13% laer en het vir die maand R82.2-miljard beloop. Uitvoere van motorvoertuie, vervoertoerusting, masjinerie en elektronika het aansienlike stygings getoon.

Die opgelope tekort vir vanjaar is R15.2-miljard teenoor die vergelykende syfer van R20.3-miljard verlede jaar.