Ligte skuddings

Die nuus dat lede van die Boere-Afrikanervolk hul regsverteenwoordiger versoek het om ’n klagskrif op te stel en te beteken op die voormalige president van Suid-Afrika, mnr. F. W. de Klerk, het inderdaad ’n ligte skudding veroorsaak.

Daar het ook ’n tikkie humor, of is dit ’n ligte moedswilligheid plaasgevind.

Dit kan “ligtelik” ontleed word om die humor daarin raak te sien.

Die dokument is opgestel deur Paul Kruger – en dit is ’n naam wat alom bekend is in die land, want dit is ’n naam wat met roem kom uit die dae van ’n gevierde president.

Dit is egter nie al nie. Om die sout spreekwoordelik, dieper in te vryf is die woord “Kodesa” op subtiele wyse “verander” na die Klagskrif se KOGESA.

Nog is dit die einde nie.

Die dokument van KOGESA is onderteken deur ’n ander Botha en ’n ander De Klerk.

Ook dit spreek boekdele, en dit laat sout in op plekke wat sekerlik ’n branderige gevoel laat ontstaan.

Iemand het opgemerk dat die ondertekenaars van die Klagskrif nie mense is wat wag vir Nobelpryse nie, en onbevrees die vryheidspad bewandel.

Die Vryburger is oorweldig deur die enorme reaksie wat sy berig ontketen het. Behalwe die menige kommentare, en die honderde persone wat aangedui het dat hulle van die berig se inhoud hou, het oproepe en e-posse die stelsel byna oorlaai.

Die redaksie van Die Vryburger wil egter sy dank en waardering uitspreek teenoor mnr. Paul Kruger vir sy harde werk en opoffering, en die durf van die KOGESA lede wat die dokument onderteken het.

Die gebeure wat hom sal afspeel op 31 Mei in Pretoria, wanneer hierdie dokument weer ter sprake kom, met of sonder die teenwoordigheid van F W de Klerk, gaan waarskynlik een van die mees opspraakwekkende gebeurtenisse word wat ’n voormalige Staatspresident van Suid-Afrika ooit te beurt geval het.

Dit gaan inderdaad nog ’n ligte skudding veroorsaak.

Diegene wat daardie geleentheid gaan bywoon op 31 Mei, sal deel wees van ’n geskiedenis hoofstuk van besondere aard en betekenis.

Dit wil dus lyk asof hierdie skudding ’n nuwe dimensie in die geskiedenis van die Boere-Afrikanervolk inlei.

Wat opvallend is, is die feit dat die betrokkenes van die Klagskrif almal erkende Protestantse Boere-Afrikaners is wat midde in die stryd staan om volksvryheid te herwin vir ons volk.

Hier kom ’n ding!

Redakteur