Krygkor koppe rol

Die ondersoek na beweerde onreëlmatighede in Krygkor met kontrakte het daartoe gelei dat die eerste koppe van seniors rol.

Die drastiese stappe volg nadat onreëlmatighede glo bevind is met kontrakte waar militêre voertuie herstel moes word.

Twee senior werknemers, een elk van Krygkor en BAE Land Systems is geskors en op verpligte verlof gesit tot die uitslag van die ondersoek bekend gemaak kan word.

Nie een van die twee organisasies se woordvoerders wou enige bevestiging gee dat skorsing wel toegepas is nie, maar daar is vasgestel dat Krygkor se programbestuurder, Eric Oelofse in gedrang is, terwyl die ondersoekers beslag gelê het op sy rekenaar.

Onbevestigde berigte lui dat mnr. Ronnie Thompson van Land Systems voorlopig uit sy pos verwyder is, maar geen vêrdere inligting is beskikbaar nie.

Klaarblyklik is die Militêre Polisie se ondersoekeenheid nog besig met die saak, maar die Nasionale Vervolgingsgesag word reeds betrek in die hele saak, terwyl twee seniors in die Weermag nou ook betrek word in die ondersoek.

Dit blyk dat aanklagte van bedrog en korrupsie teen verskeie werknemers ingestel sal word na afhandeling van die ondersoek.