Koningklip vis met snaakse inhoud

As ’n bont-koningklip vis in die wye see gevang word, en dit weeg meer as 5 kg, dan is dit niks vreemd nie.

Maar as die vis dan oopgesny word, en ’n vibrator kom uit sy pens, verander die verhaal sodanig dat dit vêrdere ondersoeke vereis.

Visserman, Bjoern Frilund (64), wat gereeld sy visstok se lyne gaan natmaak, het ’n bont-koningklip van meer as 5kg gevang in die Noorse weskus.

Toe Frilund die vis oopsny, het die vis se pens vreemd gelyk, en as ervare viskenner, het hy dadelik verder oopgemaak om vas te stel wat gaande is.

Toe kom hy op die rubberagtige ding af wat so 16 cm lank is.

Hy sê hy ken die vis met sy snaakse maniere, waarvan een is dat hy letterlik enigiets insluk wat vir hom na kos lyk.

Frilund sê hy dink die vis het die vibrator-speelding, wat sonder batterye was, dalk vir ’n inkvis aangesien en daarvan ’n maaltyd probeer maak.

Hy sê dit is egter besonders dat so ’n artikel deur ’n vis ingesluk word, om dan later met ’n visstok gevang word.

So iets gebeur nie elke dag nie, het hy gesê.