Klein dorpie, groot rooftog

Die klein, haas onbekende nedersetting, Hotazel, het self deurgeloop onder die hand van geldgierige rowers toe die dorp se enigste bank van al hulle geld besteel is.

Om alles te kroon, het die boewe sommer die Standard Bank se voertuig gebruik om hulle “uit die voete te maak”.

Na berig word het diewe gedurende die naweek, in nagtelike ure, gaan skuil in die plafon van die bank, en verlede Saterdag net voor sluitingstyd toegeslaan, al die geld gevat, en met die bank se voertuig weggeglip.

Blykbaar was van die personeel alreeds weg toe die rowers toegeslaan het, die kassier en nog een personeellid was nog in die gebou, en is met ’n wapen aangehou terwyl hulle al die geld versamel en toe die bank uit gedraf en met die voertuig weggery.

Die Bank kon nie sê hoeveel geld gesteel is nie, maar het bevestig dat die polisie die saak ondersoek.