Klag ingedien oor taal in howe

Die taalaktivis Cerneels Lourens, ’n prokureur van beroep, het ’n klag ingedien by die

Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (Pansat) teen die hof­reëlsraad wat glo weier om landdros-hofreëls in Afrikaans te publiseer.

Lourens sê die gewysigde landdros-hofreëls het in Oktober 2010 in werking getree en hy het in 2011 ’n klag by Pansat daaroor ingedien.

Intussen is nuwe raadslede in Pansat aangewys, en hy hoop dat die nuwe lede aandag aan die klag sal gee.

Lourens het daarop gewys dat die hofreëlsraad se besluit om siviele hofreëls slegs in Engels en in Xhosa te publiseer, hoegenaamd nie aanvaarbaar is nie aangesien Afrikaans die enigste ander taal van rekord in die siviele howe in die land is.

Hy sê dié besluit is irrasioneel want slegs Engels en Afrikaans word as hoftaal van rekord gebruik.

“Die taal voorkeure is Engels en Afrikaans as siviele hof-tale en die voorkeur vir Afrikaans word hierdeur benadeel en geïgnoreer,” het Lourens gesê.