Kitsbank-rowers vasgetrek

‘n Ondersoek wat van stapel gestuur is, bestaande uit ‘n taakspan van die polisie, asook Absa se misdaadeenheid, het sewe mense gearresteer wat na bewering R4 miljoen uit 17 verskillende kitsbanke in Nelspruit gesteel het. 

Die ondersoek was om te probeer vasstel waarom die stad se kitsbanke gedurig sonder geld was.

Die beweerde baasbrein is die 30-jarige Mzamo Thwala, wat as opsigter by die bank gewerk het, het die provinsiale woordvoerder, kol. Leonard Hlathi, gesê. 

Sy makker is die bank se gekontrakteerde skoonmaker, Given Mafiyeka, wat ook 30 jaar oud is. Beide het die bank se reëls en regulasies van hoe om geld in die kitsbanke te laai na bewering verontagsaam.

Die bankbestuurder het lont geruik aangesien die kitsbanke in Nelspruit se middestad gedurig sonder geld was, het Hlathi gesê. 

Verdere ondersoek het bewys dat een van die bank se opsigters het toegang tot die kitsbanke gehad hoewel dit nie so moes wees nie. Daar is ook gevind dat hy die toegangskodes van die kitsbanke verander het, het Hlathi gesê. Thwala en Mafiyeka is volgens Hlathi op veiligheidskameras uitgevang waar hulle met banksakke vol kontant by ’n kitsbank wegloop. 

Die twee is vroeër vandeesmaand in Middelburg gearresteer. R121000 van die R4miljoen is glo in hul sakke gevind. Tydens ondervraging is gevind dat vyf ander verdagtes tussen die ouderdomme van 28 en 34 ook glo betrokke was. Onder die ander vyf verdagtes is ’n bankadministrateur, ’n goeie vriend, familielede en ’n tradisionele geneser. Hulle is Rose Mashigo (33), Tshepo Phila (29), Phumlani Lekhuleni (30), Themba Mafiyeka (26) en Evans Thwala (34).  

Die "geneneser", Phila, is blykbaar betaal om aan hulle moetie te gee wat hulle bestand teen arrestasie sou maak. Meer as R3miljoen van die gesteelde geld is teruggevind.