Kareedouw het koffie-krane

Die inwoners van die Oos-Kaapse dorpie het aanvanklik gespot en gesê dit is die enigste dorp ter wêreld waar jy koffie uit jou waterkraan kan tap.

Maar as dinge nie verbeter nie, word die grap soos die inwoners – suur!

Inwoners is nou siek en sat vir die koffiekleur water waarmee hulle moet was, en eet en drink, maar hulle is nog meer onthuts omdat hulle geen terugvoering kry van die munisipaliteit nie. Alles wat wetenswaardig is oor die situasie, lees hulle in die koerante.

Nou het die koffie-bruin water nog ’n ander nuwigheid bygekry. Die hoofpyplyn het gebars, en dit maak dat inwoners swart water, met ’n duidelike olielaag daarop, uit die krane kry.

Wit klere word sonder kleurstof, ’n helder bruin kleur as dit uit die wasmasjien kom, wat bitter moeilik weer wit gewas kom, en steeds swyg die owerhede soos die graf.

Van die inwoners oorweeg regstappe teen die munisipaliteit en reken dit is gekheid om vir sulke water te betaal, want dit kan hoogstens vir benatting in die tuin gebruik word.

Daniel Raseala, die bestuurder van Departement Water en Sanitasie, reken dit sal enkele dae neem voor die water weer helder sal word. Die pype wat vervang is, moet net skoon gespoel word met die vloei van die water.