Japanners oes walvisse

Die Japanse walvisjagvloot het tot dusver vanjaar 251 dwergvinwalvisse (minke) naby Antarktika doodgemaak in wat na verwagting sy laaste jagekspedisie in die Suidelike Oseaan sal wees nadat ’n internasionale hof hom jag daar belet het.

Volgens inligting wat die Japanse vissery-agentskap eergister uitgereik het, is die vangs meer as dubbel dié van 2013 – toe net 103 gevang is – maar veel minder as sy doelwit van 935.

Geen gewone vinwalvisse is in die jag­ekspedisie, wat van 3 Januarie tot 13 Maart geduur het, gevang nie.

Japan is ’n lidland van die internasionale walviskommissie (IWK), wat kommersiële walvisjag verbied. Tot en met die hofbevel van krag geword het, het Japan volgehou dat hy walvisse jag vir wetenskaplike doeleindes, al word walvisvleis in dié land geëet.

Die omgewingsgroep Sea Shepherd het jaarliks sy skepe na die Suidelike Oseaan gestuur om die walvisjagters te konfronteer. Die laaste jare roem Sea Shepherd hom daarop dat die groot daling in die getal walvisse wat gejag is, deur sy toedoen was.

Die Verenigde Nasies se internasionale strafhof in Den Haag het verlede week bevind dat die Japanse jagekspedisie eintlik kommersiële jag is, wat teenstanders bekragtig het.

Ná die bevinding het Japan gesê hy kanselleer vir die eerste keer in langer as 25 jaar sy jaarlikse jagekspedisie in die Suidelike Oseaan.

Japan bedryf egter nog wat hy noem ’n walvisjagprogram vir wetenskaplike doeleindes in die noordwestelike Stille Oseaan wat nie deur die hofbevel geraak word nie.