Japan se ongunstige handelsbalans

Japan se jaarlikse ekonomiese groei was teleurstellend. Maart se syfers was die mees teleurstellende die afgelope jaar.

Die ekonomiese insinking, in die derde grootste ekonomie in die wêreld, was te wyte aan verlaagde uitvoere en ’n afname in binnelandse verbruik na die verhoogde BTW wat vanaf 1 April verhoog was van 5% tot 8%. Swakker uitvoere is aangehelp deur die laer ekonomiese groei in China wat een van Japan se grootste uitvoermarkte is.

Die jaar het ‘n negatiewe handelsbalans van $134.5-miljard getoon. Dit is teweeggebring deur laer uitvoere, aangehelp deur die waardedaling van die Japanse yen. en vererger deur die hoër invoere toename van 18.1%. Invoere was veral in brandstofverwante produkte weens die kernkragsentrales wat steeds ongebruik bly na die tsunami wat die land in Maart 2011 getref het.

Japan is tradisioneel ‘n land wat gewoond is aan ‘n positiewe handelsbalans, maar ervaar tans ‘n ongekende 21-ste opeenvolgende maand met ‘n handelstekort.

Die Japanse regering bly steeds vol vertroue dat uitvoere binnekort sal begin toeneem weens beter internasionale ekonomiese vooruitsigte. Die regering het ook verlede week aangekondig dat die land weer sy kernkragsentrales in bedryf gaan stel. Intussen hou die Bank van Japan (Sentrale Bank), wat van mening is dat alles nog volgens plan verloop, die situasie dop en sal, indien nodig, in Junie of Julie besluit of die ekonomie aangehelp moet word.

Foto: Bank van Japan