Jansenville stink nou erg

Saans as die warm Karooson agter die westerkim sak, daal daar ’n stank oor die dorp wat net deur die bittereinders weerstaan kan word, want rioolwater is nou nie juis wat ’n dorpenaar graag wil ruik nie.

Dit blyk dat die rou riool sommer in die Sondagsrivier ingepomp word en daarom die erge reukwalms wat oor die dorp hang.

Van die diere wat die water drink uit die Sondagsrivier, kry allerhande nuwe siektes en vlieë word gelok na die gebied.

Van die lokasie se kleingoed speel in die morsige water, en dit kan ernstige siekte toestande wek, meen die inwoners.

Die probleem lê glo by die pompe wat onklaar is, en foutiewe elektriese bedrading asook waterkleppe wat nie meer behoorlik werk nie.

Navrae by die Munisipaliteit lewer geen inligting nie, en beloftes dat die probleem reggestel gaan word, hang in die lug, sê die ontstoke inwoners.

Die Sondagsrivier vloei in die laer geleë Darlington-dam, wat weer besproeiingswater voorsien aan nabygeleë boere.

Die boere kla dat hulle nie die rioolwater kan benut om voedsel te produseer nie, en is selfs huiwerig om dit vir besproeiing van lusern te gebruik.