Italië red onwettige immigrante

In net minder as 48 uur het Italië 4,000 migrante uit bote gered waarmee hulle Europa probeer bereik het, het Angelino Alfano, Minister van Binnelandse Sake, gesê.

Die Italiaanse regering het die Europese Unie al telkemale gevra om ’n groter rol te speel in die polisiëring van die kuswater omdat twee derdes van die migrante wat Italië bereik, daarna na ander lande in die streek reis.

Volgens Alfano het 15,000 migrante Italië sedert die begin van vanjaar per see bereik. Hy meen dat dit ‘n ernstige situasie is waarvan Europa moet kennis opneem en onmiddellik moet optree, want dit is nie ’n Mediterreense grens nie, maar ’n Europese een.

Weens beter see-toestande, ’n oproer in Libië en die chaos en onstuitbare milisies sedert Moeammar Ghaddafi drie jaar gelede uit die kussings gelig is, trotseer al hoe meer mense die steeds gevaarlike seevaart van Noord-Afrika na Europa.

Die krisis vererger en daar is geen einde aan die bote wat hier aankom nie, het Alfano aan die radiostasie RAI gesê.

Een groep van 1,049 migrante, onder wie 91 vroue en drie babas, is deur ’n vloothelikopter en onbemande vliegtuie opgemerk toe hul boot probleme ondervind het. Hulle is in bote gelaai en na die eiland Sicilië gebring.

Italië is ’n gewilde deurgang na Europa vir migrante wat die Middellandse See oorsteek, dikwels in oorlaaide en gebrekkige skepe.

Die Italiaanse vloot is permanent ontplooi in die waters tussen Sicilië en Noord-Afrika ná twee skeepsongelukke in Oktober 2013 waarin onderskeidelik 366 Eri­treërs verdrink en sowat 200 oorwegend Siriërs gesterf het. 

Foto – Angelino Alfano