Inflasiedruk neem toe

Volgens syfers wat die afgelope 24 uur deur Stats SA bekendgestel is het die twee hoof aanduidende indekse wat prysstygings in die land se goedere aandui, die Verbruikersprysindeks (VPI) en die Produksieprysindeks (PPI), beide vir Maart sorgwekkend hoog afgesluit.

Die VPI het ‘n jaar-op-jaar styging van 6.0% gehad en ‘n maand-op-maand toename van 1.3%. Sedert Junie 2008 se maand-op-maand styging van 1.4% is Maart se 1.3% die hoogste vir die afgelope byna ses jaar.

Die swak rand wisselkoers, die pryse van staatsbeheerde dienste en produkte, waaronder munisipaliteite, Eskom, asook brandstof het bygedra tot die prysdruk.

Die PPI vir finale vervaardigde goedere vir Maart het ‘n jaar-op-jaar prysstyging van 8.2% gehad. Die maand-op-maand verhoging vir Maart teenoor Februarie was 1.3%.