ilde Iris / Dietes grandiflora

Daar is seker baie min van ons tuiniers wat nie hierdie plant ken nie. Dietes of Wilde Iris en ’n inheemse plant wat in ons tuine floreer. Dit moet natuurlik beheer word, ander kan dit nogal groot oppervlaktes van ons tuine inneem. Wilde Irisse is ook deesdae in verskillende kleure van blomme en verskillende groottes blomme te kry. Daar is ook ’n blom wat heeltemal geel is met die donkerbruin kolletjie in die middel van die blom en ook ’n heeltemal blou blom. Dit vertoon pragtig en die blou Dietes is baie skaars in ons tuine. Dietes word veral vir landskapering geplant. Dit groei baie goed en geil en kan baie vinnig ’n groot area bedek.

Dietes is ’n immergroen meerjarige plant en groei omtrent oral in die wêreld en in enige weersomstandighede. Die plant word tot 1,5 meter hoog en vorm ’n bos met lang, smal, spiesvormige harde blare. Dit vorm ’n lang stingel met die blom aan die bopunt. Die blomme is gewoonlik wit blaartjies met die blou/pers in die middel en dan die stuifmeel. Wilde Iris groei in volson of skadu, en groei baie goed onder bome. Voor ’n mens jou oë uitvee, het jy ’n tuin vol Wilde Irisse en dit blom baie goed. Die plante wat geel en ander kleur blommetjies dra, se dratyd is minder as ons gewone bekende wit en blou blomme.

Die blommetjies hou net vir een dag en dan sal dit verlep en ’n saadlob vorm. Die saadlob raak donkerbruin en hard wanneer dit ryp is, en skiet vanself oop en versprei. Die sade is klein donkerbruin pitjies aan die binnekant van die lob. Hulle ontkiem ook sommer baie vinnig. U sal opmerk dat net voordat ons ’n goeie reënbui gaan kry, sal die plante oortrek wees met blomme. Dit vertoon pragtig. Indien dit gesny word en in die huis gerangskik word, sal die blomme ook net vir een dag goed vertoon.

Wilde Irisse is in die familie Iridaceae en dit is geharde tuinplante. Dit word deur die saad of knolverdeling voortgeplant. Hierdie plante het nie baie aandag nodig nie en ook nie baie water nie. In sekere gedeeltes van die wêreld is hul tot onkruid verklaar.

Tuiniers, ons kan nou sommer heerlik in die tuin ploeg en plant want die weerstoestande is ons goedgesind. Onthou dat u nog steeds lentebolle kan plant en ook saad saai van die eenjarige lente blommetjies. Geniet u tuin en hopelik het u nog nie ryp gehad nie. Daar is al dele in die hoëveld wat reeds ryp gehad het. Sorg maar vir rypdoek om sekere bome en struike.

Tuingroete tot volgende keer.