Hoërskool Lichtenburg gee geld vir kankerlyer

In slegs drie dae het die Hoërskool Lichtenburg in Noordwes, R76,500 ingesamel vir ’n leerling met bloedkanker wat ’n beenmurgoorplanting benodig. 

Hulle het dit reggekry deur onder meer ’n haarskeerdery en -spuitery by die skool ten bate van Theo le Roux (14) aan te bied. 

Sy ma, Franca sê Theo is oorweldig. Hy kan nie glo die skool het soveel moeite gedoen nie. Die sukses van die insameling het die skool laat besluit om voort te gaan met die geldinsameling. 

Akute meïloïede leukemie (AML) is in Januarie by Theo gediagnoseer nadat hy maande lank gesukkel het met seertjies in sy mond, moegheid, ’n swak eetlus en gewigsverlies. 

Hy kry nou sy derde chemoterapie-behandeling by die Unitas-hospitaal in Pretoria, sê sy pa Douglas, wat sowat 150 km van Lichtenburg boer. 

Theo wag nou op ’n beenmurgskenking omdat dit sy kans op herstel drasties sal verhoog. 

Lizane Zandberg, ’n musiek-onderwyser aan die Hoërskool Lichtenburg, het gesê die skool het as deel van hul “Hart en Hande-omgeeprojek” besluit om Theo te help. 

Verlede Dinsdag het 400 seuns en manspersoneel, onder wie die skoolhoof Dawie Mathee, hul hare by die skool laat afskeer. Sewe haarkappers in die dorp het dit gratis gedoen. Leerlinge en personeellede het R30 daarvoor betaal en R20 om hul hare met kleur te laat bespuit. 

Al dié geld is na Theo se fonds. Die haarskeerdag by die skool het R44,000 ingebring. ’n Skoolsokkie Woensdagaand het R6,000 ingebring. By ondernemings en skole-muntleggings in die dorp is R26,500 ingesamel. 

Dr. Koba van der Walt, ’n mediese dokter van Potchefstroom wat verlede jaar genees is van AML danksy ’n geslaagde beenmurgoorplanting, het gesê om beenmurg te skenk, is niks ingrypender as bloedskenking nie. 

Dodelike bloedsiektes soos leukemie word by veral kinders en jong volwassenes gediagnoseer en ’n beenmurgoorplanting is dikwels hul enigste kans op oorlewing.