Hond beskerm brulpaddas

Die Noordwes-Universiteit (NWU), is besig om ‘n skaaphond op te lei om die groot brulpadda, wat ‘n beskermde spesie is, ondergronds uit te ruik.

Volgens Kiewiet Scheppel, woordvoerder van die NWU-Pukke, sal die ses maande oue Jessie later verder opgelei word om ook velsiektes aan paddas uit te ruik. Jessie se opleiding is deel van die meestersgraadstudie in dierkunde van haar eienaar, Esté Matthew.

Die grootbrulpadda, ook genoem die Afrika-brulpadda, is ’n beskermde spesie in Sentraal-Transvaal omdat sy habitat weens verstedeliking krimp. Die padda hiberneer tot 11 maande per jaar ondergronds. Die padda is net sowat ’n maand (gewoonlik in November en Desember) bogronds om te broei en eiers te lê.

Dit is belangrik dat hulle opgespoor word voordat bou-ontwikkelings plaasvind, anders kan dit dalk gestaak word en ontwikkelaars miljoene rande kos, het Matthew se studieleier, prof. Ché Weldon, verduidelik.

Die doel met Jessie se opleiding is om die brulpaddas betyds uit te snuffel om die spesie te help bewaar en hul habitat-ekologie te ondersoek.

Jessie sal later ook opgelei word om padda-siektes uit te snuffel om hulle in die diag­nostiese ­fase te help.

Swamme wat vel-infeksies by paddas veroorsaak, gee ’n eiesoortige reuk af wat Jessie moontlik sal kan uitruik.

In die net meer as twee weke wat sy al opleiding kry, het sy verrassend vinnig gevorder. Sy kan nou al van een eenheid tot ’n 100,000ste daarvan in ’n houer ondergronds uitruik.