Handboek tekort onopgelos in N-Transvaal

Verlede week het daar weer ‘n saak voor die Hooggeregshof in Pretoria gedien na aanleiding van leerlinge wat steeds nie nuwe handboeke ontvang het nie. Die regsentrum  Section 27 het namens die organisasie “Basic Education” hom tot die Hof gewend in die steeds voortslepende saga van tekort aan handboeke by skole in die provinsie.

Feite wat op die tafel geland het, was dat ongeveer 60% van vanjaar se tekort  die gevolg is van leerlinge wat nie aan die einde van 2013 hulle handboeke teruggegee het aan die skole nie. ‘n Verdere tekort is dat te min geld van die provinsiale tesourie ontvang is vir die aankoop van nuwe boeke. Tot op datum het 2.2% van die leerlinge in die provinsie nog steeds geen handboeke nie- Klaarblyklik moet 158 860 boeke nog afgelewer word.

Senior advokaat Chris Erasmus het namens die department betoog dat daar teen die einde van 2013, nog 171 000 handboeke nie van leerlinge terug ontvang is nie. Dit nadat daar twee omsendskrywes uitgegaan het na die ouers asook ‘n vergadering in die verband gehou was. In sy betoog het adv.Erasmus klem gelê op al die maatreëls wat deur die department in plek gesit is om so ‘n moontlike probleem op te los.

Regter Neil Tuchten het sy uitspraak vir ‘n onbepaalde tyd uitgestel maar tog opgemerk dat dit vir hom moeilik is om te sien hoe die department beveel kan word om te verbeter op sy pogings om die handboekkrisis af te weer.

Hierdie sweer met betrekking tot die onvermoë om handboeke by die leerlinge uit te kry, kan figuurlik tot op die been oop gesny word en een eienskap wat so duidelik soos daglig sal vertoon, is die gebrek aan dissipline. ‘n Heel eenvoudige stelsel is in die vorige bedeling toegepas:

Nuwe handboeke is betyds bestel en afgelewer

Elke skool het ‘n georganiseerde boekestoor gehad

Handboeke is standerdgewys op rakke gepak met ‘n “pro-forma”bladsy by elke stel wat die volledige inligting en aantal boeke getoon het

Vakonderwysers het aan die begin van die skooljaar, die regte hoeveelheid boeke aangevra en aan die binne-kant van die buiteblad, was ‘n stempel waarin leerlinge  hulle name invul, asook die toestand van die boek. Van splinternuut tot gehawend. Dit was ook nie vreemd indien ouers pogings aanwend om die boek wat dalk verniel is, te probeer heg nie.

Aan die einde van die skooljaar, nadat die laaste vraestel in ‘n betrokke vak geskryf is, is al die handboeke ingeneem, afgemerk teen ‘n klaslys en verlore- of erg beskadigde boeke, is die waarde daarvan van die ouers  verhaal

Boeke is dan weer teruggeneem na die Boekestoor.

Dit het met enkele uitsonderings altyd goed gewerk. Die personeellid wat verantwoordelik was vir die boekestoor, se werk is ook weer deur ‘n meer senior kollega gekontrolleer en so het elke klein ratjie in die werking van ‘n groot skool,  glad gewerk.

Dit blyk dat die gemiddelde skool uit die sg.”agtergeblewende kultuur”, nie juis te vinde was/is vir wat in ons spreektaal as “rompslomp”bekend staan nie. Aan die begin van die jare 90, is in sekere stedelike streke deur die destydse onderwysowerhede, gepoog om hierdie mate van beplanning en beheeruitoefening na die skole in die swart woongebiede uit te brei. Verskillende vakgroepe is gestig waarheen onderwysers van oor die hele spektrum uitgenooi is. By hierdie werkgroepe is ervare onderwysers gebruik om hulle kundigheid met almal te deel. Dit het begin by sillabusse, werkskemas, jaarbeplanning, kwartaalbeplanning tot by weeklikse- en daaglikse beplanning. ‘n Magdom fotostate en veral ure se werk is gedoen om die skole wat nie so goed  presteer nie, ook te probeer help.

Op daardie stadium was dit nog ongehoord dat ‘n onderwyser sou staak, en toe die eerste ongelukkigheid in die “townships” opvlam, toe word al die harde werk op ‘n hoop gegooi en aan die brand gesteek.

Die huidige situasie is dus nie vreemd nie, met enkele uitsonderings bekend, blyk dit dat by baie onderwysers ‘n werksetiek ontbreek. ’n Verdere skokkende berig wat oor die naweek in onderwyskringe bekend geword het, is die gebruik om bevorderingsposte te koop. Tot soveel as R30,000 word vir ‘n hoofpos betaal en dit blyk dat die Onderwysvakbonde hier die beherende aandeel het.