Gas-ontploffing beseer gesin

’n Jong ma en haar twee kinders het ernstige brandwonde opgedoen en verkeer in die Unitas-hospitaal van Verwoerdburg na ’n gasbottel van die braaier ontplof het.

Die ma, wat verkies om anoniem te bly, is deur die Emer-G-Med-ambulansdiens vervoer, en ’n woordvoerder van dié diens sê al drie het ernstige brandwonde opgedoen, waarvan die ma glo die ergste beseer is.

Die braaier staan naby ’n houthuisie en skynbaar het gas onder die houthuisie ingevloei en deur die houtvloer van die huisie gelek. Dit het veroorsaak dat die houthuisie begin brand, en die pa was besig om die brandweer te skakel terwyl ma nog probeer het om die vlamme te blus.

Dit is toé dat die gasbottel ontplof het.