Farlam-kommissie ruk tot stilstand

Die Farlam-kommissie wat ondersoek instel na gebeure by die Marikana-slagting, wat uiteindelik tot die dood van sowat 44 mense gelei het, is tot stilstand geruk met verrigtinge toe tientalle betogende familielede in die voorportaal van die gebou begin sing het.

Die optrede spruit glo uit die reëling dat ’n getuie, bekend as “mnr. X” se getuienis in camera aangehoor moes word.

Die familie van mynwerkers wat gestaak en toe omgekom het in die skietery deur die polisie, het ’n protesbrief oorhandig nadat die regter Farlam noodgedwonge die verrigtinge moes stop om na die griewe van die rasende betogers te luister.

Die betogers het in hulle eis aan die kommissie gevra dat geen spesiale voorregte aan getuie “X” verleen moet word nie.

Die betogers was geklee in t-hemde van die vakbond Amcu.

Die polisie wil getuie “X” wat beweer dat hy self  ‘n mynwerker is, in afsondering laat praat, maar die mynwerkers se families sê dat alles openlik moet gebeur, anders gaan die waarheid nie uitkom nie.

Farlam het later met van die betogers saamgestem dat Mnr. X in persoon voor die kommissie moet kom getuig.

Adv. Dali Mpofu, wat vir die families optree, het in sy betoog gesê Mnr. X is ’n onbetroubare moordenaar.

Farlam het die betogers ingelig dat dit sy plig is om na almal te luister sodat ’n billike verhoor gehou word om agter die volle waarheid te kom.

Foto – regter Farlam