Ek sien dit so!

Kan dit wees dat ons mense so vasgevang is in hulle eie denke, of eerder in die denke van hul breinspoelers, dat hulle net mooi niks meer vir hulleself kan doen nie?

Hier in Neelsie omgewing, is dit ‘n alledaagse verskynsel om te sien hoe motorwagte groot uitgevrete blanke mans se inkopiesakkie dra. Dis genoeg om van naar te word, dan praat ek nie eers van die kruiperigheid van hierdie tipe man nie. Ek dra my eie sakke, al moet ek hulle sleep!

Dit is hierdie luiheid wat oorspoel na ander fasette van mense se daaglikse bestaan. Jy kan nie self jou voertuig se wiele pomp nie, jy kan nie self die olievlak nagaan nie, jy kan nie jou vrou se kar was as hy vuil is nie, jy kan nie self betrokke raak by jou volk se grootste oorlewingstryd nie.

Ja…ek ruk nie die eend onder die dam uit nie. Dit is presies waarmee ons deesdae te doen het.

Mense is al so afgestomp vir wat daagliks onder hulle neuse plaasvind, dat dit hulle nie meer pla nie. Is dit nie tyd dat ons mense bietjie selfondersoek doen nie?

Wanneer laas was jy geskok oor ‘n bejaarde wat gemartel word? Wanneer laas het jy iets gedoen vir iemand sonder om iets terug te verwag? Wanneer laas het jy iets gedoen vir die voortbestaan van jou nageslagte? Wanneer laas het jy iets gedoen vir jou volk?

Daar sal ongelukkig ‘n paar stemme opgaan wat verklaar dat hulle oor drie weke hulle kant gaan bring deur te stem. Na afloop van die stemmery sal hulle seker ook weer “verdwyn” vir die volgende vyf jaar tot die volgende verkiesing. Kruisie getrek, gewete gesus.

Ek verklaar weer, daar is geen manier op hierdie aarde dat ek ooit sal deelneem aan hierdie sirkus wat ‘n verkiesing genoem word nie. Wanneer ek stem, stem ek slegs in die VVK se verkiesings.

Doen vandag iets produktief, gaan registreer as kieser op die Volksraadverkiesingskommissie se kiesersrol.

Besoek www.vvk.co.za vir inligting.

Ek wens elke leser van ons volkskoerant ‘n veilige en geseënde Paasnaweek toe. Wees paraat en bly veilig.

Boeregroete,

Kordaat Neelsie