Ek sien dit so!

Ons is besig om die einde van ‘n era te nader. ‘n Volksheld wat alles opgeoffer het vir ‘n skaamteloos-ondankbare volk, is terminaal siek en boonop in aanhouding ook. Oom Clive Derby-Lewis verdien om te weet dat daar nog baie mense is wat hom nie vergeet het nie.

Saterdag, 12 April om 09:00, sal daar hopelik duisende volksgenote opruk na Kerkplein in Pretoria. Dit is die beginpunt van ‘n optog gewy aan Oom Clive.

‘n Man van 78 somers, terminaal siek, reeds 21 jaar in die tronk, oorleef 2 sluipmoordaanvalle in die laaste maand en steeds wil hierdie kamstige wonderlike reënboog-regering hom nie vrylaat nie.

Neelsie sou sê dat dit ‘n skreiende skande is – om dit baie ligtelik te stel! Hier in donker Afrika is daar skynbaar nie iets soos skaamte nie, daar word net verder voortgeploeter na die naderende afgrond.

As daar nou ooit ‘n gulde geleentheid was om aan hierdie regering, en aan die hele wêreld te wys dat ons nou net mooi moeg is vir hierdie sirkus van ‘n Ruwe SA, is dit die komende verkiesing. Volksgenote moet in hulle duisende wegbly van die stembus wat hierdie storm oor ons koppe lewendig hou. Laat elke party wat staatmaak op Afrikanerstemme vir eens en vir altyd besef dat elke Afrikaner, Boere-Afrikaner en Boer nou genoeg gehad het van die leë beloftes van soustreinryers.

Die vertrapping van ‘n opregte man soos Oom Clive se regte, tesame met die opgetrekte skouertjies van kinderagtige politici behoort dit nou duidelik te stel dat daar geen heil vir ons mense binne hierdie bestel is nie.

As jy Saterdag in Pretoria kan wees, vra ek jou om op te ruk met jou Vierkleur. Laat ons elkeen vir Oom Clive wys dat ons hom nie vergeet het nie, en laat ons aan die wêreld wys dat ons nooit sal gaan lê nie.

Terwyl jy nog wik en weeg oor of jy hierdie optog sal bywoon, gebruik daardie tyd doeltreffend en gaan registreer solank as kieser op die Volksraadverkiesingskommissie se kiesersrol. Ons het ‘n geleentheid om vandag iets vir ons kinders te doen, moenie daardie geleentheid deur jou vingers laat glip nie. www.vvk.co.za

Sien julle Saterdag op Kerkplein!

Boeregroete,

Kordaat Neelsie