Egpaar se feestelike Paastyd

In Europa is Paasfees ’n belangrike geleentheid vir duisende mense wat op verskillende maniere die tyd deurbring.

’n Egpaar van die dorp Saalfeld in Duitsland het egter ’n eie plan ontwikkel om mense te vermaak oor die feestyd, en doen dit reeds vir die afgelope 50 jaar.

Volker Kraft en sy vrou Christa versier elke jaar hul appelboom met sowat 10,000 Paaseiers wat hulle self verf.

Die egpaar hou ’n eeu-oue Duitse tradisie in stand, en sorg daarmee dat derduisende mense in Duitsland, en ook vanaf ander lande regoor die wêreld, na hulle versierings kom kyk.

Dit neem die Kraft-egpaar sowat twee tot drie weke om al die eiers te verf, en soms nog skulpies op party te plak, wat dan aan die appelboom gehang word.

Die Guinness rekord vir die die meeste paaseiers aan ’n boom, staan in die Rostock-dieretuin in Duitsland waar byna 77,000 eiers in 2007 aan die groot boom gehang is.