Ebola kan verwoestende epidemie word

Die sterftesyfer Guinee het gestyg tot meer as 90 gevalle waarvan die owerhede kennis dra, en 122 Ebola gevalle is intussen aangemeld

Dokters Sonder Grense (MSF) sê die omvang van die epidemie is ongekend want dit is onmoontlik om te bepaal wat die omstandighede in die plattelandse gebiede is, en dit is uiters moeilik om die verspreiding van die virus te beheer.

“Ons het ’n epidemie van ongekende omvang, wat wyd versprei is in die land,” is die siening van Mariano Lugli, die projekbestuurder van MSF in Guinee.

Die land se president, Alpha Condé, het ’n  noodtoestand in gesondheid afgekondig, maar reken Senegal se besluit om grensposte met Guinee te sluit, veroorsaak onnodige verwarring en paniek.

Twee mense is in Liberië, ’n buurland van Guinee, is reeds dood, en blykbaar is daar nog 12 gevalle wat nou ondersoek word. Later is berig dat ’n jagter in Liberië omgekom het nadat hy die siekte opgedoen het, en alhoewel hy inderhaas na ’n hospitaal vervoer is, is hy ’n uur later oorlede.

Saoedi-Arabië het intussen bekend gemaak dat die visums van Moslem-pelgrims na Mekka vanaf Guinee en Liberië, opgehef word om vêrdere verspreiding te voorkom.

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het in ’n verklaring gesê mense moet liewer die state vermy in die volgende maande.

Intussen is verneem dat die eerste gevalle aangemeld is in Mali, wat daarop dui dat die verspreiding nie gekeer gaan word in die gebied nie.

Internasionale kundiges meen die infrastruktuur in verskeie Afrikalande is sodanig dat die epidemie kan uitloop op ’n nasionale ramp in die hele sentrale gebied van Afrika.