Deel een – Is Christelike skole nodig?

Hierdie is ’n eerste aflewering in ’n kort reeks oor Onderwys.

 

Soveel keer hoor ‘n mens iemand sê: “Maar ons skool open darem nog met skriflesing en gebed.”  Ongelukkig spreek die opmerking van soveel onkunde.  Daar was ‘n studie gedoen in die VSA waar bevind is dat soveel as 70% van kinders uit Christelike huise, by die tyd dat hul Universiteit bereik nie meer glo dat die Bybel die absolute waarheid is nie. 

In ons eie land sien ons dit in die toenemende goddeloosheid asook die vele Gemeentes wat aan die kwyn is. Vir te veel Christene van vandag is Sondag ‘n dag waarop ons Kerk toe gaan, as daar tyd is, en ons nie iets anders op ons vol program het nie.  Die res van die week en Saterdag is so gelaai dat Sondag ‘n dag geword het waarin, dit wat agterweë gebly het opgevang moet word.  Huisgodsdiens en ‘n lewe waarin die koningkryk van God in alles eerste kom is maar net ‘n onbereikbare doel daar iewers ver weg.

Reeds in die vorige geslag is op skool skeiding gemaak tussen die wetenskaplike en die godsdienstige gebied.  Op skool is vakke aangebied vanuit die sogenaamde neutrale posisie.  Die wetenskappe is geplaas in die kategorie van die tasbare en dit wat ons met die sintuie kan waarneem en toets.  Wetenskappe is beskou as die werklikheid, terwyl godsdiens en geloof geplaas is in die kategorie van van die religieuse, die kategorie van verhale en die moeilik bewysbare.  Dit het veroorsaak dat vir baie mense die lewe in kompartemente opgedeel is.  God en geloof is beperk tot Sondag en die sake van persoonlike moraliteit.  Dus was hierdie lewensbeskouing deels verantwoordelik gewees dat soveel Christene ‘n Sondag Christenskap gehandhaaf het.  Sondag by die kerk en moontlik Woensdag by die biduur was hulle vroom en in ‘n aanbiddingstemming.  Vir die res van die week was hulle in die harde werklikheid van die lewe waar ‘n heel ander stel reëls gegeld het.  Ongelukkig het hierdie valse lewenstyl die geslag daarna skepties gelaat en voorberei tot die volgende stap van afvalligheid.

Pluralisme en relativisme

Vandag sit ons nog steeds met ‘n mengelmoes van die vorige geslag se afvallighede maar die probleem het reeds veel verder gevorder.  Pluralisme en relativisme is groot woorde maar om dit eenvoudig te stel is dit bloot die siening dat alle godsdienste en filosofieë gelyk is.  Die Bybel vol foute is en nie meer die absolute en enigste waarheid is nie.  Dat die Bybel, en dan ook slegs ‘n gedeelte daarvan, net waar is vir ‘n klein groepie fundamentalistiese Christene.  Vir ander mense is hulle filosofieë en godsdienste ook waar.  Die grootste sonde in so ‘n samelewing is dan natuurlik vir ‘n Christen om te wil beweer dat hy die waarheid het en dat ander mense van ander sienings dwaal.  Daar is nou nie meer net een weg na die saligheid nie nl. Jesus Christus nie, maar elkeen besit die waarheid en die saligheid volgens sy eie standaarde en godsdienstige oortuigings.  Dit maak natuurlik die pad wyd oop tot die volgende stap wat ons al reeds ervaar, nl. om ander godsdienste en filosofieë op die proef te stel.        

Hierdie uiters gevaarlike sienings en nog vele meer, word op ‘n meesterlike manier ingewerk in skole se leerplanne.  Dit word verder gerugsteun en versterk deur die televisie, internet, tydskrifte en die algemene mening van die dag.  Natuurlik is daar onderwysers wat in hierdie warboel, ten spyte van groot druk vanuit alle rigtings, steeds probeer om die waarheid aan kinders te bring.  Onderwysers wat na die beste van hul vermoëns die vloedgolf probeer teenwerk.  Die werklikheid is egter dat gemengde klas situasies, groot leerling getalle, wetgewing, tydsfaktor en ander probleme maak dat dit egter feitlik onmoontlik is om werklik ‘n verskil te kan maak.  Met tyd word mense wat vroeër vurig was vir koninkryk van God gekondisioneer.  Selfs volwassenes word deur die leuens oorrompel.  Soveel mense sien dan ook vandag nie eers meer die gevare nie. 

Die ergste is egter dat vakke op skool nie eers meer aangebied word vanuit die sogenaamde neutrale posisie nie, maar juis met ‘n definitiewe humanistiese inslag. Op subtiele wyse word geleer dat die mens en menseregte die hoogste gesag is.  Die mens uit laer vorme van lewe ontwikkel het en daarom nie ‘n siel het nie.  Die mens inherent goed is en daarom nie ‘n verlosser nodig het nie.  ‘n Swak omgewing die oorsaak van verkeerde gedrag is en nie die sondeval en persoonlike sonde van die mens nie.  Natuurlik word elkeen wat dit betwyfel as oningelig, antidemokraties en antisosiaal gebrandmerk.      

Christelike Skole

In Christelike skole is daar nie net ruimte om met skriflesing en gebed te open nie.  Ruimte om moontlik Christelike morele waardes in lesse in te werk nie, maar daar is plek vir soveel meer.  Ongelukkig is open met skriflesing en gebed en morele waardes glad nie meer genoeg vir die besondere eise van ons tyd nie. Ware Christelike onderwys vind plaas vanuit die basis, dat die Woord van God die hoogste gesag is en alles daaraan gemeet moet word.  Dat elke kind in hierdie lewe ‘n Goddelike roeping het en dat God elke kind daarvoor met spesifieke talente toegerus het.  Dit is dan ook deel van die onderwyser se taak om die kind en ouer te help ontdek aan die kind se Goddelike roeping en  tergelykertyd ook die kind te help voor berei om op alle vlakke van die lewe sy roeping te vervul tot eer van God.  Alles wat daarmee in stryd is, teen te staan en die waarheid so aan die kind te bring dat dit hom/haar toerus om die aanslae in die lewe te kan hanteer.  Dat alle geskiedenis en tyd by die skepping begin soos wat in Genesis geleer word.  Christus, soos in die Bybel, die middelpunt en doel van alle geskiedenis is.  Elke volk ‘n eie geskiedenis en identiteit het met ‘n plek in hierdie wêreld.  Alle geskiedenis beoordeel moet word vanuit die lig van die skrif en dit so geleer moet word, dat kinders lewenswysheid en ewigheidswaarheid daaruit kan put.  Alle wetenskappe ondergeskik is aan die Skrif en deur God aan ons gegee is om te ontdek en te gebruik om ons lewens op aarde mee te verbeter tot die eer van God. Vakinhoud wat teenstrydig met die Skrif is soos bv. die evolusieteorie verkeerd is.  Die inhoud so aan die kind geleer moet word dat die hulself kan beskerm teen die leuens en strikke.  Die kind op gebied van akademie, kultuur en sport op ‘n gebalanseerde manier ontwikkel word dat alles strek tot eer van God.

Kitsoplossing

Ons lewe in ‘n wêreld van knoppies druk en kitsoplossings.  Sommige mense sal sê: “Maar gelukkig kom my kind uit ‘n sterk huis met ‘n stewige Christelike fondasie.”  Moontlik is dit so, maar het u al gedink dat u kind 6 tot 12 ure per dag vir vyf dae ‘n week en meer, met bose filosofieë ondermyn word.   Die beste gedeelte van elke dag, wanneer u kind vars en so ontvanklik as moontlik is, behoort aan ander mense om u kind op te voed.  Vanaand wanneer u moeg en geȉrriteerd by die huis kom en u kind moeg is, dan wil u dit wat ‘n hele dag gevat het om te bou, nou gaan evalueer en die leuens uit sif.  Meeste mense dink maar net hul weet wat hul kinders leer en besef geensins wat werklik in die klaskamer plaasvind of in hul handboeke staan nie.  Met dertig minute op ‘n Sondag oggend wil ons in die Sondagskool ‘n buffer bou teen ten minste 30 ure en meer, se verkeerde bou van die week.  Verstaan my mooi, nie alles wat in die klaskamer geleer word is verkeerd nie,  maar dit vat slegs ‘n klein persentasie gif om al die meel te vergiftig.

Gesien in die lig van die ware feite, is Christelike skole nie ‘n opsie nie, maar definitief ‘n noodsaaklikheid.  Die vraag is of u werklik die waarde van u kind se siel besef.  Mag u genade vind om die regte besluite te neem.    

Geleenthede

Geleenthede word gewoonlik raakgesien die oomblik as dit nie meer beskikbaar is nie.  Die saak van Christelike skole is ‘n geleentheid vir elke Christen, al het hulle nie eens kinders op skool nie, om die opdragte van die Here Jesus te gehoorsaam.  Dit is ‘n geleentheid om op een of ander manier, hoe klein ook al ‘n bydra te lewer vir die Koninkryk van God.  Dit is skatte bymekaar maak in die Hemel ( Mat  6:19-20)

Hendrik Pretorius