Clive – longkanker gediagnoseer

Die verontregte mnr. Clive Derby-Lewis is met ’n aggressiewe longkanker gediagnoseer in sy regterlong terwyl die Owerheid steeds weier om die korrekte optrede te volg en hom onverwyld op parool uit die gevangenis te laat.

Derby-Lewis word nog steeds in ‘n Pretoriase hospitaal behandel nadat daar twee aanvalle op hom was met die doel om hom te vermoor.

“Dit is erg, en verskriklik, en Clive is baie, baie siek,” het Gaye Derby-Lewis, sy ontstelde vrou gesê.

Wat sake waarskynlik nog erger maak, is die feit dat dit dieselfde long is wat deur die sluipmoordenaar met ’n stuk glas deurboor is.

Clive Derby-Lewis moes onverwyld na ’n hospitaal geneem word vir behandeling, maar ’n agterlosige owerheid het hom eers die volgende dag na ’n hospitaal laat gaan toe hy reeds besig was om in sy eie bloed te verstik.

Korrektiewe Dienste se personeel het sommer die wond toegewerk sonder om eers vas te stel wat die inwendige skade is wat veroorsaak is deur die glasstuk.

Vroeër is hy met vel- sowel as met prostaatkanker gediagnoseer, en dit blyk dat die Owerheid daarin ook nalatig was om hom toe te laat vir behoorlike behandeling in ’n hospitaal.

Die optrede van die owerheid laat waarnemers met die indruk dat daar agter die skerms gewerk word om Clive Derby-Lewis te laat sterf voordat hy die tronk verlaat, aangesien sy aansoek om parool reeds vier keer afgekeur is terwyl ANC ondersteuners weens sogenaamde gesondheidsredes op parool vrygelaat is en tans perdfris voorkom.