China het groot planne met Volvo

China, die grootste vervaardiger van motorvoertuie in die wêreld, het ‘n beskeie begin gehad. Die eerste motors was redelik minderwaardig, maar die land het met gebruikmaking van Westerse ervaring voordurend sy standaarde verhoog.

Die Chinese oorname van Volvo vanaf Ford vier jaar gelede het China se ideale ‘n goeie hupstoot gegee vir die vervaardiging van hoë kwaliteit motorvoertuie. Tydens die Chinese president, Xi Jinping, se besoek vandeesweek aan Europa, het hy ook ‘n draai by die Volvo fabriek in België gemaak en die 300 000-ste Volvo by die aanleg in Ghent onthul. Hy het die gehoor meegedeel dat Volvo mik na die verkoop van 800 000 Volvo’s per jaar binne ses jaar en daarna na eenmiljoen per jaar.