Bom ruk Afrika-staat

’n Geweldige bomontploffing by ’n bus terminus in ’n buitewyk van Abuja, die federale hoofstad van Nigerië, is blykbaar die heftigste ontploffing wat die stad nog getref het.

Die ontploffing het nie die lewens van 72 mense geëis nie, dit het ook 124 mense beseer, waarvan ’n groot aantal kritiek is en in hospitale opgeneem is.

Kenners en ontleders meen die geweldige ontploffing kan lei tot die verspreiding van nog meer Islamitiese aanvalle op burgerlikes.

Islamitiese rebelle het tot nog toe slegs enkele aanvalle op burgerlikes gedoen, maar die afgelope maand is die aanvalle vermeerder en die intensiteit daarvan verhoog.

Die rebelle, Boko Haram is aanvanklik beskuldig maar die rebellegroep het nog geen verklaring uitgereik in die verband nie.

Blykbaar was dit ’n motorbom wat die stad geskud het., en die gevolg daarvan is dat bloed en menslike oorskot oral rond gelê het.

Opruimers het moeite ondervind om die gebied weer skoon en leefbaar te maak, terwyl die veiligheidsmagte alles moontlik probeer doen het om die paniekbevange skare en omstanders in bedwang te hou.

Brandweermanne het hulle hande vol gehad om ’n brandende bus met die verkoolde lyke daarin te probeer blus.

Kenners meen die ontploffing bevestig hoe ’n belangrike, maar kwesbare teiken Abuja is vanweë sy multi-kulturele bevolking en sy groot verskeidenheid geloofsgroepe.

Die vorige aanslag op mense in Abuja was ’n selfmoordaanval van twee jaar gelede toe ’n motorbom die kantore van ’n bekende koerant in Abuja geteiken was.

Foto – Abuja