Betaal eers, kry dan!

Die nuutste neiging onder motoriste om brandstof in te gooi, en dan met ’n vaart wegry sonder om te betaal, word toegeskryf aan die duur brandstofprys en ’n ekonomie wat die gordels al stywer trek.

Nou het talle vulstasies begin om motoriste te vra om eers te betaal alvorens brandstof ingegooi word. Dit gebeur egter gedurende die nagskofte wanneer sulke diewe geneig is om toe te slaan.

Die diefstal bring mee dat die petroljoggie aanspreeklik is vir betaling van die tekort, want as dit nie sy verantwoordelikheid bly nie, kan hy besluit om medepligtige te word, sê een vulstasie eienaar.

Van die vulstasies het nou veiligheidskameras geïnstalleer wat wel ’n hulpmiddel is, maar daar word dikwels brandstof gesteel op die manier, waarvan die voertuig se nommerplate gekloon of vervals is.

Sekere vulstasies het reeds kennisgewings op dat motoriste eers moet betaal voor hulle brandstof kan kry.

Dit mag gebeur dat ’n motoris betaal vir R800 se brandstof, en dat die voertuig vol is met R750, dan word die verskil in kontant aan hom terug gebetaal, sê een vulstasie eienaar.