Beskonke wis gesin uit

Mnr. Botha Viljoen (39) sy gade, Engela (36), asook hulle babatjie van agt maande is dood in ’n motorongeluk nadat ’n beweerde dronkbestuurder die ongeluk veroorsaak het.

Die egpaar se seun Vince (13), is die enigste oorlewende en verkeer in die Universitas hospitaal in Bloemfontein.

Die ongeluk het gebeur toe die bestuurder (22) van ’n bakkie blykbaar op die verkeerde kant van die pad was en ’n kop-teen-kop botsing veroorsaak het.

Die egpaar, wat saam met hulle kinders vir die dag by Maselspoort was, wou hulle 16 huweliksherdenking gevier het toe die ongeluk plaasvind.

Die bestuurder en sy twee passasiers in die bakkie, het slegs ligte beserings opgedoen, maar hy is in hegtenis geneem en sal in Oktober in die hof verskyn.

Vince, wat ’n leerling is aan die Laerskool Bloemfontein, het glo volgens hospitaal personeel, breinbeserings opgedoen, en sy een been en kakebeen is gebreek.

Marie Lombaard, sy ouma sê hulle het die dokters gevra om wanneer Vince uit die bewustelose toestand kom, hulle self die tragiese nuus aan hom wil oordra.