Bederf jou stembrief

Die ontevredenes wat nou alles in die stryd werp om die ANC se steun weg te lei, word nou teengestaan deur Ministers wat hulle voormalige vriende en kollegas se veldtog probeer kelder.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, die Minister van Verdediging, het Ronnie Kasrils en Nozizwe Madlala-Routledge se veldtog om stembriewe te bederf, as onverantwoordelik en verraderlik afgemaak.

Politieke waarnemers sê dit is duidelik dat die waarskuwing van wyle dr. Verwoerd besig is om werklikheid te word toe hy gesê het dat die groot verskille tussen die swart volke in Suid-Afrika uiteindelik tot ’n massiewe bloedbad kan lei as hulle nie uitmekaar gehou word nie.

Nou vind daar ’n getjank en verwyte teenoor mekaar plaas wat die verwydering net groter maak, en moontlike eenwording net bemoeilik, het ’n politieke analis gesê.

“Kasrils en sy makkers besef waarskynlik nie hoeveel dit die ANC gekos het om sy kiesers op te lei in die afgelope 20 jaar nie, en wat dit geverg het om hulle te bemagtig nie,” het Mapisa-Nqakula gesê.

Kasrils se veldtog het begin, waarin hulle kiesers aanmoedig om hulle stembrief te bederf, of om vir een van die ander partye te stem.

“Hulle is lafhartig. Waarom ’n stembrief bederf?” het Mapisa-Nqakula gesê.

Meningsvormers sê dit is interessant dat ’n paniekerige Helen Zille ook ’n flou geluid geuiter het dat dit lafhartig is om nie te stem, of om stembriewe te bederf, want dit word al duideliker dat die ANC en Zille al nader aan mekaar beweeg..

’n Woordvoerder van die Verkennersbeweging sê dit is opvallend hoe graag die politici van mense verwag om deel te neem aan ’n verkiesing terwyl daar ernstige bedenkinge bestaan oor die OVK voorsitter se optrede.

Niemand wat die huidige bedeling se wettigheid bevraagteken, behoort deel te neem aan ’n verkiesing waaroor daar baie bedenkinge bestaan, het hy gesê.