Antarktika ysberg wek kommer

Die massiewe B-31 Ysberg wat aan die einde van 2013 losgebreek het, is tans besig om in ’n anti-klok rigting om Antarktika te beweeg teen ’n vinnige snelheid, wat die gevaar daarvan nog verder verhoog.

Alhoewel die gebied waar die ysberg hom bevind redelik afgeleë is, kan dit later ’n ernstige probleem word vir skepe in die gebied.

Indien B-31 verby die Weddell-see sou beweeg na Drake Passage wat geleë is tussen Suid-Amerika en die skiereiland, kan dit ’n ernstige gevaar vir skeepsvaart beteken.

Die bewegings van B-31 word egter per satelliet dopgehou om skepe in die omgewing bedag te maak op die ligging daarvan.

Skepe is ook met radar toegerus om betyds waarskuwings te sein voor ’n botsing plaasvind, alhoewel talle voorvalle bekend is dat die radar-opsporings nie suksesvol was met ysberge nie.

Earth Observatory van Nasa meen dat die moontlikheid nie uitgesluit is dat die ysberg die normale skeepsroetes kan versper nie.