ANC volg Mugabe taktiek

Met verkiesingstyd maak die ANC blykbaar van Mugabe se tegnieke gebruik om kiesers te oorreed om weer vir die party te stem gedurende die komende algemene verkiesing.

Met geel T-hempies wat met Zuma se gesig daarop, word kospakkies uitgedeel aan die sogenaamde verarmdes onder die vaandel van Fetsa-Tlala-voedsel verspreiding.

Dit is die siening van verskeie meningsvormers en politici in Suid-Afrika.

’n Politieke analis het aan Die Vryburger gesê die optrede laat mens dink aan die manier waarop Mugabe sy ondersteuners omgekoop het, met die verskil dat die ANC nie hulle naam op die hemde plaas nie, maar wel die ANC se president vertoon, wat presies dieselfde effek het.

Op die rugkant van die hemp staan  “We have a good story to tell” wat blykbaar die ANC se slagspreuk vir die algemene verkiesing is.

Alhoewel die nasionale voedingsprogram verlede jaar goedgekeur en in werking gestel is, kom die praktiese uitvoering daarvan op ’n tydstip wat dit die ANC bevoordeel in die verkiesing. Die kospakkie-program het ’n nasionale begroting van bykans R2 miljard.

Gedurende munisipale tussenverkiesings is dieselfde uitdeel-taktiek glo toegepas en was daar in sowat 20 wyke meer as 23,000 kospakkies uitgedeel.

Vir 2014 is die begroting met meer as 25% verhoog, wat die indruk laat dat die ANC belastinggeld gebruik om stemme te werf tydens verkiesings.

Robert Mugabe het ’n soortgelyke program in werking gestel tydens ’n vorige verkiesing, het ’n politieke ontleder bevind en sulke optrede van regerings, maak van algemene verkiesings ’n klug.