ANC en EFF byna handgemeen

Jan Kempdorp, in die Noord-Kaap was amper ’n bloedbad toe ANC ondersteuners en Malema se EFF ondersteuners vir mekaar met gebalde vuiste en dreigemente uitgetart het voor Malema sy toespraak kon maak.

Dit het die polisie verplig om lemmetjiesdraad tussen ANC-lede Julius Malema se ondersteuners te span toe hulle met mekaar wou handgemeen raak.

Uiteindelik het Malema sy spreekbeurt gekry, en onder meer geëis dat blankes wat nie hulle grond wil oorhandig nie, eerder moet padgee en sy tirade voortgesit dat pres. Jacob Zuma vanweë die Nkandla-skandaal, eerder sy bedanking moet indien.

Die byeenkoms in die dorp is by ’n sokkerstadion gehou in die teenwoordigheid van ’n sterk groep polisiebeamptes.

Na bewering het die ANC vanaf verskeie omliggende plekke, en ondermeer ook van Kimberley, sy ondersteuners aangery in ’n poging om die Malema-vergadering omvêr te werp.

Malema het herhaaldelike kere verwys na die belangrikheid van vryheid wat ook grondeienaarskap beteken, en gesê boere wat bereid is om 90% van hul grond te deel met swartes, behoort gesoen word.

“Ons wil saam met blankes leef, veral saam met diegene wat hul grond deel met die oorspronklike en wettige eienaars, die swartes, en as hulle dit nie wil doen nie, moet hulle eerder padgee,” het hy gesê.

“Swartes het lank voor die koms van Jan van Riebeeck reeds geboer in die land, en ook minerale ontgin lank voor die witman se koms na Afrika.”