ANC beskerm Joemat-Pettersson

Salam Abram, ’n LP wat uit die ANC bedank het, sê ANC-LP’s word uit Luthuli-huis beheer.

Abram was ’n lid van die parlementêre komitee vir landbou en visserye. Hy is al langer as 40 jaar in die politiek betrokke.

Hy is ‘n slag uit ‘n komiteevergadering in 2013 gejaag omdat hy die minister van Landbou, Bosbou en Visserye, Tina Joemat-Pettersson, daarvan beskuldig het dat sy lieg.

Volgens hom is hy toe met ‘n tugverhoor gedreig, maar dié het soos mis voor die son verdwyn toe hy daarop aangedring het dat die minister en die ANC-voorsitter die verhoor moet bywoon en sy vrae beantwoord.

In Januarie egter moes hy in The New Age lees Stone Sizani, die ANC-hoofsweep, sê hy (Abram) het verskoning aangebied.

Talle briewe waarin hy gevra het dat die aangeleentheid reggestel moet word, het op niks uitgeloop. Moloto Mothapo, ANC-woordvoerder in die parlement, het gesê Abram is einde 2013 na die hoofsweep en was jammer oor die saak en het verskoning aangebied.

Abram, wat geen toekomstige politieke planne het nie, het gesê hy het die ANC se interne prosesse gevolg en is geïgnoreer. Hy sê dat in die parlement het ANC-LP’s bykans geen sê nie en geen plek om te gaan om probleme te takel nie. Besluite word in Luthuli-huis geneem.

Die ANC se topbestuur wil selfs die LP’s se parlementêre toesprake lees en boonop is daar verskillende reëls vir verskillende persone.

Hy sê dat verskeie ondersoeke het al verskeie bevindings en aanbevelings teen Joemat-Pettersson gemaak. Daaraan steur die party hulle nie en intussen bestuur sy landbou en visserye in die grond in.

Foto – Tina Joemat-Pettersson