Aanklag teen apteker teruggetrek

Mev. Karen Fouche, ’n apteker van Ficksburg, wat ’n aanklag van moord in die gesig gestaar het, is verlig nadat die klag teen haar teruggetrek is toe haar regsverteenwoordiger in die voorlopige verhoor haar saak verdedig het.

Fouche is aangekla vir moord of poging tot moord, nadat sy haar man vir ’n inbreker aangesien het en hom met ’n handwapen, twee skote geskiet het.

Sy het vlugtig in die hof verskyn waar die hele saak teen haar, vir enige verdere ondersoek teruggetrek is.

Volgens haar regsverteenwoordiger was sy onregmatig in hegtenis geneem, aangesien daar geen klag ten haar gelê is nie, en die hele saak uit verband geruk is deur polisiebeamptes.

Jonker Botha, haar regsverteenwoordiger, het aangevoer dat sy kliënt nooit in hegtenis geneem moes gewees het nie, want dit was verkeerd en die familie hanteer die saak op hulle eie manier.

Hy het daarby gevoeg dat die geluk ook is dat mnr. Fouche nie baie ernstig gewond is nie, aangesien die koeëls nie een van sy organe getref het nie.

Haar seun Frikkie het later te kenne gegee dat die koeëls dwarsdeur sy pa se lyf is wat die herstel proses heelwat sal bespoedig.