Ysland se visie inspireer

Deur selfonderhoudende plase, besighede en inisiatiewe om die meeste uit hulle natuurlike bronne te tap, het Ysland nou die moontlikheid om ‘n selfondersteunende nasie te word, waarvan ander kan leer.

Ysland is ‘n land van uiterstes. Met die bankkrisis in 2008 het die debiet- en kredietsisteem waarop die Yslandse ekonomie gebaseer was, in duie gestort.

Natuurbewaarder Omar Ragnarsson, sê dit is die beste ding wat met die land gebeur het.

"Nou dat ons ‘n ruïne is, kan ons daaruit leer en met nuwe denke ‘n nuwe omgewing en gemeenskap skep."

Sedert die bankkrisis het gewone Yslanders bymekaar gekom saam met wetenskaplikes, ekonome, boere en ander versiendes om nie net die probleme van ‘n gemeenskap wat aan siklusse van skuld en kooplus verslaaf was, aan te spreek nie, maar met ‘n bloudruk vir ‘n standhoudende, plaaslik gebaseerde ekonomie vorendag te kom.

"Ek wil vra dat Yslanders plaaslik optree, maar globaal dink," sê Guðjón Már Guðjónsson, in sy Toekoms van Hoop verslag, wat die vordering van hierdie nuwe beweging uiteensit.

Met hierdie missie voor oë, het Guðjónsson die Ministerie van Idees gevorm, ‘n voetvlak beweging wat as ‘n gespreksforum dien vir die bespreking van vernuwing in industrie, opvoeding, tegnologie, ekonomie en die gemeenskap.

"Ons kan begin visualiseer hoe Ysland oor 20 of 50 jaar sal wees sonder die betrokkenheid van groot maatskappye en politieke partye. Wanneer ons stem, sal dit wees vir politici wat hierdie visie deel," sê Guðjónsson.

Indien daar ‘n wêreldwye energiekrisis is, sal Ysland die plek wees om in te bly sê Kristín Vala Ragnarsdóttir, voormalige hoof van die departement van ingenieurswese en natuurwetenskap aan die Universiteit van Ysland.

Die rede hiervoor is dat die land se geografiese- en geologiese samestelling dit ‘n hawe van skoon energie maak, danksy die warmwaterbronne en aktiewe vulkane. Warm water wat uit die aarde gepomp word, voorsien tans in die grootste deel van Ysland se verhitting.

Die Yslanders gee ook aandag aan die sektore wat steeds van fossiel energie afhanklik is. Die land se karre en skepe mag binnekort deur waterstofselle aangedryf word. Navorsing word tans gedoen om geotermale energie te gebruik om waterstof van water te skei. Indien hulle daarin slaag sal Ysland 100% selfvoorsienend wees in terme van energie verskaffing.

Organiese kweekhuis-boerdery laat almal toe om hulle eie groente te produseer. Ongeag die lae temperatuur, het biologiese kontrole hierdie bedryf so suksesvol gemaak dat Ysland verwag om binnekort tamaties na Europa uit te voer.

Eymundur Magnússon wat ‘n groot organiese plaas het, sê hulle verkondig die idees om plaaslik en seisoenaal te eet, want dit bespaar energie en verminder besoedeling. Hy sê as jy eers een keer organies geët het en gewoond geraak het aan die smaak en soetheid van die groente, is daar geen terugkeer nie.

Skoon energie projekte het ook nuwe bloed in Ysland se universiteite se enginieurs en tegniese sektore gebring. Dit help om Yslanders aan te moedig om hulle eie idees te ontwikkel eerder as om ander te finansier, soos wat in die jare voor 2008 gedoen is. Op die oomblik is hulle betrokke in lande in Asië, Afrika, Europa en die Amerikas om hulle te leer hoe om skoon ekonomieë te ontwikkel.

Geen slegte prestasie vir ‘n land met 320,000 inwoners nie.

Daar is ook ‘n nuwe fokus op Yslanders se tradisionele handwerk en oudhede. Handgebreide truie het ‘n kulturele skuif veroorsaak wat net so belangrik was as die ekonomiese een.

Hoewel die inwoners van Ysland eeue gelede al geleer het hoe om op die yskoue vulkaniese eiland te oorleef, leer hulle ook nou om die ekonomiese katastrofes te bowe te kom. Alle Yslanders is by die projek betrokke, wat deur en vir die volk ontwerp is as ‘n assuransiepolis om enige probleem in die toekoms die hoof te bied.